net hallo te gaan sê aan die kinders na wie jy so verlang, kyk uit vir dié rare
sleepsel. Die Sol Cinema is ’n piepklein karavaantjie in Wallis wat ombou is in ’n
“omgewingsvriendelike teaterhuisie” en word wyd en syd op die Britse eilande
rondgesleep; dit alles vir ’n goeie doel.
Paul O’Connor is deel van dié geselskap en verduidelik: “Die idee agter die klein
omgeboude karavaantjie is om mense te inspireer om self in te spring om onse planeet
’n beter plek te maak. Iemand het die 1972 Euro‐Camper‐karavaan aan ons geskenk. Die
oorspronklike karavaan was ’n driebed 9 ft‐karavaan. Dié model was nog jare terug
ontwerp vir die destydse Mini in 1965.
“Drie plaaslike kunstenaars hier in Swansea het die karavaan onder hande gekry, en
₤20 000 later was dit ’n klein teatertjie. Ons sleep die Sol Cinema met ’n
Volkswagen Transporter T4 na enige plek, of daar nou krag is of nie. Hy is nou
toegerus met sonpaneelherlaaibare batterye. Dié batterye is van die soort wat in
elektriese motors gebruik word en hou baie lank. Sol is Spaans vir “son”.
“Ons is vier mense wat die teater beman: twee persone wat help met die kaartjies en
plekke aanwys, ’n tegnikus en ek, wat help met die video‐projeksie. Ons wys kort
10-minute video’s in die teatertjie, juis temas wat ’n mens nie op alledaagse TV
sien nie met merendeels ’n ekologiese aanslag. Een video is byvoorbeeld van ’n 12
000 km‐tog van ’n onderwyseres om mense bewus te maak van aardverwarming, ’n ander
weer oor leef en leer in en uit die natuur. Jy sal nie glo nie, mense staan rye voor
die karavaantjie om van die vertonings te sien. Die teatertjie kan agt volwassenes
vat, alhoewel ons al 16 kinders op ’n keer ingeprop het!
“Fees‐organiseerders ‘huur’ ons as geselskap en die feesgangers kyk dan gratis na
ons vertonings. Ons het laasjaar 6 000 besoekers deur die deur gehad. Die opbrengs
is op sy beurt ten bate van ons liefdadigheidsprojek, Undercurrents, ’n
media‐kunste‐organisasie wat omsien na sosiale- en omgewingsbelange. Laasjaar was
ons eerste jaar op die pad en buiten Wallis, het ons ook ’n draai gemaak in Ierland,
Skotland en Engeland.
“Ons mikpunt is om ’n groot “teatervloot” op die been te bring om uit te reik na
mense om die aarde ’n beter plek vir almal te maak.”